Home Up REGISTREER NOU! Fotoblad Webskakels McArthur - ons gee die pas aan ....  Home Up                                                                                       

MCARTHUR AKTIWITEITE: TWEE- EN DRIEKAMPE (DUATHLONS & TRIATHLONS)

Die Hawaiï Iron Man Triathlon (wat uit 3,2km swem, 180km fietsry en 42,2km hardloop bestaan) is die eerste keer in die vroeë 1980's aangebied.  Die gier het vinnig oorgewaai na Suid-Afrika, omdat ons ook baie gefokus is op ultra-byeenkomste, en ook omdat die voordele van die drie spesifieke dissiplines, asook die beginsel van "cross-training" wel-bekend was.  In 1984 vind die eerste "Ysterman" by die Hartebeespoortdam plaas, maar word die swem "omgeruil" vir 'n 21km kanovaartskof.  (Die fietsry was 105km en die hardloop was steeds 42,2km).  In 1986 neem vier "Maccies", Daan Wissing, Gerrie Ferreira, Ivan Faught en Bertus le Roux (onbewus van mekaar) aan die Yster deel en voltooi dit met gemak. 

Die gogga steek nog klublede aan en die getal het meer as verdubbel die volgende jaar toe Pieter Henning, Corrie Kroon, Horatio Castanho, Johan Oelofse, Pieter Venter, Tinus Viljoen en andere agterkom dat hierdie byeenkoms 'n aangename alternatief (of voorbereiding?) vir die Comrades is.  Almal se ervaring was ook dat, alhoewel hulle langer neem om die Ysterman te voltooi, dit nie so straf op hulle liggame was nie.  Daar het ook 'n interessante McArthur-tradisie ontstaan deurdat lede mekaar uitgedaag het om die eerste Dinsdag na die Ysterman (m.a.w. 48-72 uur na die tyd) die McArthur 8km tydtoets onder 32 minute te voltooi.  Vir etlike jare het verskeie Maccies hierdie tyd met gemak gejaag.  (Deesdae word die tradisie steeds nagekom, maar is die doelpale nader aan 38 minute geskuif soos wat die jare aangestap het)!

Gedurende 1988 het McArthur-lede ook 'n leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Wes-Transvaalse Driekampvereniging met Pieter Henning as die eerste voorsitter. Bertus le Roux volg hom op in 1989 en bewerkstellig affiliasie tot die Suid-Afrikaanse Driekampfederasie (SATF - SA Triathlon Federation). Hy word dieselfde jaar tot die Uitvoerende Bestuur verkies en die volgende jaar tot Sekretaris-Generaal.  Tussen 1992 en 1994 is hy Vise-President van SATF.  

McArthur-atlete het al groot naam gemaak in die Ysterman, met Ockie de Kock seker die grootste.  Hy het as 'n jong seun, pas uit die skool, sy eerste Ysterman voltooi.  Ockie, wat by uitstek 'n fietsryer was, het tussen 1996 en 1998 'n goue driekuns behaal deur onderskeidelik vyfde, vierde en derde te eindig.  Sy Dingo Cycles-vennoot en oefenmaat Gerrie Beukes is nog 'n McArthurlegende en spog met twee goues.  Johan Oelofse neem in 1999 na 'n afwesigheid van meer as tien jaar in die Yster deel en verwerf 'n goue medalje deur vyfde in die veterane te eindig.  Boeta Pretorius oortref die prestasie in 2000 deur tweede van die veterane te eindig en 13e algeheel te eindig. (Sien die 2000 uitslae van die Ysterman )

Aanvanklik het die organiseerders van die Ysterman 'n permanente nommer toegeken aan atlete wat die byeenkoms drie keer suksesvol voltooi het (as hulle die vierde keer ingeskryf het).  Later is die doelpale geskuif na tien medaljes (soos met die Comrades).  As kompromie het atlete steeds hulle permanente nommer  na drie pogings gekry, met 'n groot geraamde permanente nommer na tien medaljes.  Bertus le Roux (11), Pieter Henning (10) en Gerrie Ferreira (10) spog met die meeste Ysterman-medaljes in die Noordwes Provinsie. Ockie de Kock (9) en Nick Rautenbach (8) is kort op hulle hakke.  Die lys van Ysterman Permanente nommers verskyn by Ysterman Driekamp  

Gedurende die wintermaande neem die meeste driekampers deel aan duathlons (of tweekampe), waar die eerste skof vervang word met 'n addisionele hardloopskof.  Ook hier het McArthurlede hulle merk gemaak en het en Bertus le Roux al opgetree as spanbestuurders van nasionale spanne na wêreldkampioenskappe, terwyl Emile Kotzé en Bert Hattingh onderskeidelik  spandokter en -fisioterapeut was.  Boeta Pretorius, Ockie de Kock, Gideon Naudé, Johann Fritz, Cor Leijenaar en Pieter Henning was al lede gewees van nasionale duathlonspanne.  

Boeta Pretorius, ons top veterane twee- en driekamper, het sekerlik die beste prestasie van sy loopbaan behaal toe hy op die 12e November 2000 die veteranekategorie van die Powerman Wereldduathlon kampioenskappe ingepalm het. Hy het ook die jonger deelnemers aan hierdie strawwe byeenkoms (10km hardloop, 60km fietsry en 10km hardloop) behoorlik laat les opsê deur vyfde algeheel in die wedloop te eindig. Dit was die vierde keer dat Boeta Suid-Afrika in verskillende dissiplines gedurende 2000 verteenwoordig het. 

Nick Rautenbach, McArthur se Twee-en driekampverteenwoordiger.


 
Stuur e-pos aan webmeester@mcarthur.org.za indien u enige navrae of kommentaar oor hierdie webwerf het.
Kopiereg © 2000 McArthur
Laas opgedateer: 12 Februarie 2001