Home Up REGISTREER NOU! Fotoblad Webskakels McArthur - ons gee die pas aan ....  Home Up                                                                                       

ENKELE VAN DIE NUUTSTE WYSIGINGS MOET NOG AANGEBRING WORD.

KONSTITUSIE VAN DIE McARTHUR MARATHONKLUB

1 NAAM

Die naam van die klub is die McARTHUR MARATHONKLUB. Waar daar in hierdie konstitusie na klub verwys word, sal dit te alle tye die McARTHUR MARATHONKLUB beteken.

2 DOELSTELLINGS

2.1 Om te alle tye in die beste belang van sy lede op te tree.

2.2 Om padwedlope te reël en deelname aan wedlope onder lede aan te moedig.

2.3 Om toe te sien dat ‘n ontwikkelingsprogram in stand gehou word, wat kan dien as voedingsbron vir die klub.

2.4 Om sover moontlik die nodige fasiliteite en geleenthede te skep, te bekom of beskikbaar te stel aan sy lede.

2.5 Om goeie sportmangees tussen klublede asook mede-atlete te bevorder.

2.6 Om toe te sien dat beamptes, skeidsregters en administrateurs op ‘n gereelde basis opgelei word.

2.7 Om fondse in te samel, te administreer en sodanig aan te wend ten einde die doelwitte te bereik.

2.8 Om lede voortdurend op hoogte van klubaangeleenthede te hou deur middel van ‘n nuusbrief.

2.9 Die klub stel hom ten doel om ‘n nie-winsgewende liggaam te wees.

3 INLYWING EN BESTAAN VAN KLUB

3.1 Die klub sal sy affiliasie by die Sentraal Noordwes Padhardloop, (SENTRAAL NOORDWES PADHARDLOOP.) in stand hou.

3.2 Indien die behoefte by minstens drie aktiewe lede bestaan sal aansoek om affiliasie gedoen word by die Wes-Transvaalse Landloopvereniging, (W.T.L.V.), die Wes-Transvaalse Amateur Atletiekunie, (W.T.A.A) of enige ander sportliggaam waardeur die belange van die lede van McArthur gedien kan word.

3.3 Die klub sal te alle tye ‘n minimum van vyftien ingeskrewe lede hê ten einde die bepalings van artikel 3.1 na te kom.

3.4 Die Konstitusie van die Mcarthur Marathonklub is onderhewig aan die konstitusie van die Sentraal Noordwes Padhardloop.

4 KLUBKLERE

4.1 Die klere van die McArthur Marathonklub wat lede tydens gemagtigde wedlope moet dra bestaan uit ‘n bottelgroen en wit hardloopfrokkie met ‘n rooi "fishnet" onder. Die wit van die frokkie sal ‘n onderstebo "V" vorm voor en agter hê met die woord Potchefstroom wat ‘n boog vorm en McArthur horisontaal onder Potchefstroom. Die woorde moet in "Royal" blou wees. Die hardloopbroek sal donkergroen wees met vertikale bane van rooi, wit en koningsblou langs die pype af. Die sweetpakbaadjie van die klub sal blou wees met ‘n rooi kraag en moue. Aan die bopunt van die moue sal ‘n wit strook wees wat voor en agter vertikaal loop tot aan die onderkant van die baadjie. Onder die kraag sal ‘n groen strook in die vorm van ‘n "V" wees aan die voor en agterkant van die baadjie. Die broek sal blou sonder kleurbane wees.

4.2 Die Bestuur van McArthur sal sorg dat daar ten alle tye ‘n voorraad hardloopfrokkies en –broekies beskikbaar is.

4.3 Die amptelike broekies en frokkies sal net deur McArthur Marathonklub voorsien word.

5 TOEKENNINGS

Toekennings sal jaarliks deur die bestuur aan verdienstelike kandidate tydens die jaarvergadering toegeken word. Toekennings sal in vier kategorieë verwerf word, naamlik, Verdienstesertifikate, Merietekleure, Erekleure en Wisseltrofees.

5.1 Verdienstesertifikate

Word toegeken aan lede wat na die mening van die bestuur prestasies gelewer het as deelnemers of administrateurs maar nie sodanig is dat dit as Merietekleur of Erekleure geag kan word nie. Sulke lede ontvang gewone ongeraamde McArthur sertifikate.

5.2 Merietekleure

Word toegeken aan lede wat na die mening van die bestuur prestasies van hoë gehalte gelewer het as deelnemers of administrateurs. Die volgende norme sal as riglyne dien:

5.2.1 Deur na die mening van die bestuur ‘n besondere diens aan McArthur en mede klublede gelewer het.

5.2.2 As ‘n lid van McArthur Sentraal Noordweskleure verwerf, (minstens drie deelnames, of soos deur die provinsiale norme bepaal).

5.2.3 Vier jaar diens lewer as bestuurslid van McArthur.

5.2.4 Verwerwing van permanente nommers in prestige wedlope, bv Comrades en Twee Oseane.

5.2.5 Enige ander goeie prestasies volgens die diskresie van die bestuur.

Kandidate wat Merietekleure verwerf, ontvang ‘n geraamde silwer sertifikaat tesame met ‘n McArthur das.

5.3 Erekleure

Word toegeken aan lede wat na die mening van die bestuur uitsonderlike prestasies van uitstaande hoë gehalte gelewer het as deelnemers of administrateurs. Die volgende norme sal as riglyne dien:

5.3.1 As ‘n lid van McArthur Nasionale kleure verwerf.

5.3.2 As ‘n lid van McArthur vir minstens drie jaar op ‘n Nasionale Bestuur dien.

5.3.3 Agt jaar diens lewer as bestuurslid van McArthur.

5.3.4 Enige ander uitstaande prestasies volgens die diskresie van die bestuur.

Kandidate wat Erekleure verwerf, ontvang ‘n geraamde goue sertifikaat tesame met ‘n McArthur das. Manskandidate vir Erekleure ontvang ook ‘n silwer beker, terwyl dames met ‘n silwer skinkbord bekroon word. Die name van die ontvangers van Erekleure sal op ‘n Ere-rol verskyn.

5.4 Wisseltrofees

5.4.1 Word toegeken aan lede wat na mening van die bestuur voldoen het aan die vereistes vir sodanige toekenning.

5.4.2 Die volgende bykomende vereistes sal geld:

    Die lid moet in amptelike klubklere deelneem, behalwe waar ‘n lid vir ‘n Provinsiale of Nasionale span gekies is en nie in klubklere mag  eelneem nie.

5.4.3 Lede wat ‘n wisseltrofee verwerf se naam word op ‘n bypassende plaatjie gegraffeer en ontvang ‘n silwer sertifikaat.

 

5.5 Huidige Wisseltrofees

5.5.1 Jan Ellis vorderingstrofee

Best vordering.

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.2 Pieter Henning Skild

Eerste McArthur Veteraan McArthur 42,2

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.3 Dervock Skild

Eerste McArthur van McArthur 42,2

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.4 Stand Kennedy Trofee

Eerste McArthur in Comrades

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.5 Kenne De Kock Trofee

Eerste McArthur Veteraan van Comrades

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.6 Schalk Theron Trofee

Eerste McArthur Meester van Comrades

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.7 Millicent Victor Trofee

Eerste McArthur Dame van Comrades

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.8 Comrades Houtlepel

Laaste McArthur Man van Comrades

5.5.9 Persoonliheid van die Jaar

Word deur lede gekies tydens die Algemene Jaarvergadering.

Silwer geraamde sertifikaat

5.5.10 "Chairman’s Trofee"

Vir ‘n lid van McArthur Marathonklub wie, volgens die Voorsitter, (met bystand en leiding van die Komitee), die meeste bygedra het tot die groei, stabiliteit en welstand van die Klub. Die lid, moet, invergelyking met ander lede, bo hulle uitstaan.

Die bydrae tot die Klub, kan verskeie vorms aanneem, soos onder andere:

5.5.10.1 Bydrae tot die Klub, (finansieël), deur byvoorbeeld die verkryging van borge en die genereer van inkomstes op ander wyses.

5.5.10.2 Fisiese bydrae in die vorm van buitengewone administratiewe aktiwiteite wat tot bevordering/verryking van die Klub gelei het of gaan lei.

5.5.10.3 Deurlopende bemarking van die Klub by wyse van persoonlike bydrae, (anders as bogenoemde), wat meetbaar is en gelei het tot die verryking en/of voorspoed van die Klub.

5.5.11 Chris Hatting Aansporing Trofee

6 LIDMAATSKAP

6.1 Lidmaatskap van die klub is oop vir alle persone van onbesproke karakter.

6.2 Alle lede moet voldoen aan die minimum ouderdomsbeperking vir wedloop-deelname soos neergelê deur Atletiek Suid-Afrika, (ASA).

6.3 Aansoek om lidmaatskap van die klub is onderhewig aan goedkeuring deur die bestuur van die klub.

6.4 Die bestuur van die klub moet alle aansoeke wat afgekeur word behoorlik kan motiveer.

7 KLUBSTRUKTUUR

Die klub sal deur die volgende liggame beheer word en ook in genoemde gesagsorde.

7.1 Die Algemene Jaarvergadering, (A.J.V.).

7.2 Die Bestuur.

7.3 Die Dagbestuur.

7.4 Sub-komitees soos deur die bestuur ingestel.

8 ALGEMENE VERGADERINGS

8.1 Die Algemene Jaarvergadring is die hoogste gesag van die Klub en sal elke jaar gedurende November gehou word. Die notules van alle vergaderings van die Bestuur en die Dagbestuur gehou sedert die vorige A.J.V. moet vir bespreking en kennisname op ellke A.J.V. voorgelê word.

8.2 Spesiale Algemene Vergaderings, (S.A.V.) sal deur die Bestuur belê word, wanneer hulle dit goeddunk, of indien ‘n skriftelike versoek ontvang word wat deur ten minste tien lede onderteken is.

9 KENNISGEWING VAN ALGEMENE VERGADERINGS

9.1 Klublede sal dertig dae voor die Algemene Jaarvergadering skriftelik kennis ontvang van die datum, tyd en plek van die vergadering.

9.2 Besprekingspunte en mosies ter verandering van die Konstitusie moet die Sekretaris nie later as een-en-twintig dae voor die aanvang van die vergadering bereik nie.

9.3 Die Sekretaris sal ‘n sakelys, veertien dae voor die vergadering, aan alle lede uitstuur.

9.4 Vir alle Speisale Algemene Vergaderings sal lede ten minste veertien dae kennis ontvang, tesame met ‘n Agenda van die voorgestelde vergadering.

10 KWORUM

Op enige Algemene Vergadering van die Klub sal vyftien van die ingeskrewe lede ‘n kworum vorm. Indien daar geen kworum teenwoordig is nie, moet die vergadering vir minstens een week uitgestel word om plaas te vind op dieselfde plek en tyd. Die lede wat dan op die uitgestelde vergadering teenwoordig is vorm ‘n kworum.

11 PROSEDURE OP ALGEMENE JAARVERGADERINGS

11.1 Op die Algemene Jaarvergadering sal die Voorsitter van die Klub die vergadering lei. In die afwesigheid van die Voorsitter sal die Ondervoorsitter as Voorsitter waarneem. In die geval waar beide afwesig is, sal die teenwoordige lede voor die aanvang van die vergadering ‘n Voorsitter aanwys, met al die magte van ‘n Voorsitter soos deur hierdie Konstitusie bepaal.

11.2 Die sakelys van die Algemene Jaarvergadering sal in die volgende volgorde verloop:

11.2.1 Die lees van die Kennisgewing van die Vergadering.

11.2.2 Die lees en goedkeur van die Notule van die vorige A.J.V.

11.2.3 Die lees en goedkeur van die Notules van enige Spesiale Algemene Vergaderings.

11.2.4 Die beskikbaarstelling van die Notules van die Bestuur vir insae.

11.2.5 Die voorlê en behandeling van die jaarverslag van die Voorsitter.

11.2.6 Die voorlê en behandeling van die finansiële verslag.

11.2.7 Verkiesing van nuwe Voorsitter.

11.2.8 Die behandeling van enige mosies of wysigings tot die Konstitusie waarvoor daar behoorlik kennig gegee is.

11.2.9 Die verkiesing van die volgende Bestuurslede:

    • Ondervoorsitter
    • Sekretaris
    • Tesourier
    • Klubhuisbestuurder
    • Wedloopkoördineerder
    • Nuusbriefredakteur
    • Twee addisionele Lede

11.2.10 Die oorhandiging van enige toekennings.

11.3 Geen mosie of wysiging daarvan op die Agenda mag sonder die toestemming van die Algemene Jaarvergadering teruggetrek word nie. Indien die voorsteller van die mosie nie teenwoordig is nie, kan enige ander lid die mosie inlei en sal daardie lid dan die bevoegdhede van die oorspronklike voorsteller hê.

11.4 Ledegelde sal jaarliks tydens die Algemene Jaarvergadering by wyse van ‘n mosie bepaal word.

12 STEMPROSEDURE TYDENS ALGEMENE JAARVERGADERINGS

12.1 Alle ingeskrewe lede van die Klub waarvan die klubgelde ten volle betaal is, sal een stem elk hê.

12.2 Alle Bestuurslede op die vergadering is op slegs een stem geregtig.

12.3 Vir alle sake waaroor daar besluit moet word, sal daar met die opsteek van hande gestem word. Indien die Voorsitter ‘n skriftelike stemming verkies of indien twee lede dit verlang moet daar van stembriefies gebruik gemaak word.

12.4 Tydens ‘n staking van stemme sal die Voorsitter benewens sy eie stem ook ‘n beslissende stem kan uitbring.

13 DIE BESTUUR

13.1 Die Bestuur van die Klub word jaarliks tydens die A.J.V. verkies.

13.2 Die Bestuur van die Klub bestaan uit die ampsdraers soos in artikel 11.2 uiteengesit.

13.3 Nominasies vir lede vir die Bestuur moet op ‘n nominasie brief gedoen word en sodanige volledige voltooide nominasie brief moet minstens sewe dae voor die A.J.V. by die Sekretaris afgelewer wees.

13.4 Slegs waar twee of meer persone vir ‘n amp benoem is, sal daar op die A.J.V. gestem word soos omskryf in punt 12.

13.5 Ingeval niemand benoem is nie, word die dienende lid geag benoem en verkies te wees.

13.6 ‘n Persoon kan vir meer as een amp benoem word en kan so ‘n genomineerde meerdere benoemings aanvaar, op voorwaarde dat indien ‘n persoon verkies word in ‘n amp verval alle ander nominasies waarvoor hy genomineer is, maar waarvoor nog nie gestem is nie.

14 VERGADERINGS VAN DIE BESTUUR

14.1 Die Bestuur sal poog om een maal per maand te vergader.

14.2 Die helfte plus een van die lede van die Bestuur vorm ‘n kworum.

14.3 In die afwesigheid van die Voorsitter, neem die Ondervoorsitter waar. Indien albei afwesig is, wys die vergadering ‘n Voorsitter aan uit die teenwoordige lede.

14.4 Alle Bestuurslede het een stem. Die Voorsitter het benewens sy eie stem ook ‘n beslissende stem.

14.5 Lede van die Bestuur sal minstens sewe dae voor die aanvang van ‘n vergadering skriftelike kennis ontvang van die datum, tyd en plek van die vergadering, tesame met ‘n Agenda.

14.6 Vergaderings van die Bestuur word na afsluiting op die vorige vergadering bepaal, of op versoek van die Voorsitter, of indien drie Bestuurslede ‘n vergadering versoek.

14.7 Die Notule van die vergadering van die Bestuur moet binne veertien dae na so ‘n vergadering aan Bestuurslede versprei word.

15 MAGTE EN PLIGTE VAN DIE BESTUUR

Behoudens die magte en pligte wat verleen is aan die Bestuur volgens enige afdeling van die Konstitusie, sal ook die volgende verdere magte en regte by die Bestuur berus:

15.1 Die Bestuur van die McArthur Marathonklub het kragtens die aanstelling deur die Algemene Jaarvergadering volle mag en outoriteit om die belange van die Klub en die finansies van die Klub met goeie oordeel en diskresie te behartig ten einde die doelstellings te bereik.

15.2 Om wanneer enige vakatures van die Bestuur ontstaan, die vakature vir die oorblywende tydperk tot die volgende A.J.V, te vul, al dan nie.

15.3 Om, indien dit vereis word, op meriete, en na behoorlike ondersoek, ‘n lid te berispe of te tug, afhangende van die oortreding begaan.

15.4 Om op elke vergadering ‘n finansiëlestaat van die Klub voor te lê en te bespreek.

15.5 Om maniere te vind om die fondse van die Klub aan te vul vir die bevordering van die doelstellings van die Klub.

15.6 Die Bestuur stel sub-komitees aan om sake van lopende belang te hanteer, bv. Klubhuisaangeleenthede, wedlooporganisering, nuusbriefredaksie, ens.

15.7 Die Bestuur poog om jaarliks by die Sentraal Noordwes Padhardloop aansoek te doen om sy wedlope tot Kampioenskapstatus verhef te kry.

15.8 Om jaarliks gedurende April ‘n opgawe van die wedlope van die volgende jaar aan die Sentraal Noordwes Padhardloop te versend vir plasing in die Nasionale Wedloopvasstellingslys.

16 PLIGTE VAN DIE BESTUURSLEDE

16.1 Die Voorsitter

16.1.1 Lei alle vergaderings.

16.1.2 Tree op as spreekbuis van die McArthur Marathonklub.

16.1.3 Is verantwoordelik vir die handhawing van order op vergaderings.

16.1.4 Moet waak oor die belange van padwedlope en padwedloopatlete onder beskerming van die McArthur Marathonklub.

16.1.5 Is verantwoordelik vir die beding van borge ten einde wedlope van die Klub asook ander aktiwiteite vir lede aan te bied.

16.1.6 Moet tydens die A.J.V. ‘n verslag lewer van die werksaamhede van die Bestuur.

16.1.7 Hou die konstitusie in stand.

16.1.8 Tree op as Voorsitter van die Dagbestuur van McArthur Marathonklub.

16.1.9 Dien op die Dissiplinêre komitee van McArthur Marathonklub.

16.1.10 Moet toesien dat vergaderings van liggame aan wie geaffilieer is bygewoon word, soos vereis deur die onderskeie konstitusies.

16.2 Die Ondervoorsitter

16.2.1 Verleen hulp aan die Voorsitter.

16.2.2 Lei vergadering in die afwesigheid van die Voorsitter.

16.2.3 Verleen hulp aan die Sekretaris.

16.2.4 Is verantwoordelik vir die openbare beeld, beriggewing en reklame van die Klub en al sy aktiwiteite.

16.3 Die Sekretaris

16.3.1 Is verantwoordelik vir alle korrespondensie, asook die neem, verspreiding en bewaring van notules van die Klub.

16.3.2 Behartig die opstel en verspreiding van Agendas en kennisgewings van vergaderings.

16.3.3 Sal ‘n volledige voorraadstaat byhou, soos verskaf deur die Klubhuisbestuurder. Hierdie staat sal jaarliks, net voor die A.J.V., of by beëindiging van die Sekretaris se ampstermyn, deeglik deur die Dagbestuur gekontroleer word.

16.3.4 Hou verslag van kleiner kontantuitgawes deur middel van ‘n Kleinkasboek. So ‘n Kleinkasboek sal maandeliks deur die Tesourier gekontroleer word.

16.3.5 Moet alle stukke, dokumente, en lêers van die Klub deeglik en ordelik liasseer.

16.3.6 Is verantwoordelik vir die kennisgewing van die A.J.V., S.A.V, Bestuur-en Dagbestuurvergaderings. ‘n Sakelys van alle vergaderings moet saam met kennisgewings gesirkuleer word.

16.3.7 Moet onder andere baie noukeurig rekord hou van die volgende:

    • Voorraad.
    • Apparaat.
    • Statistiek van Klublede se tye en prestasies by wedlope en tydtoetse.
    • Toekennings.
    • Rekords.

16.3.8 Sal in samewerking met die Voorsitter, besluit op datums, plekke en sakelyste van vergaderings.

16.4 Die Tesourier

16.4.1 Hanteer alle finansiële sake van die Klub soos deur die Bestuur aan hom opgedra.

16.4.2 Moet boekhou van die Klub se finansies sodat dit die ware finansiële toestand van die Klub weergee.

16.4.3 Moet alle gelde wat hy/sy as Tesourier van die Klub ontvang onmiddellik bank in die Klub se bankrekening, alle uitbetalings, uitgesonderd kleinkas, moet per tjek gedoen word.

16.4.4 Moet tydens die A.J.V. ‘n ge-ouditeerde finansiële verslag aan die vergadering voorlê.

16.4.5 Alle tjeks of uitbetaling-opvraagstrokies sal onderteken word deur die Tesourier, tesame met een ander Bestuurslid, soos deur die Dagbestuur aangewys.

16.4.6 Die finansiële jaar sal strek vanaf 1 November tot 31 Oktober.

16.4.7 Die Tesourier moet kontant vir kleiner uitgawes aan die Sekretaris verskaf.

16.5 Klubhuisbestuurder

16.5.1 Is verantwoordelik vir die instandhouding van die McArthurklubhuis.

16.5.2 Skakel met die Sekretaris ten einde die ererol op datum te hou.

16.5.3 Tree op as Argivaris deur voortdurend prestasies van die lede en ander geskikte geskiedkundige materiaal ten toon te stel in die klubhuis, maar ook te bewaar.

16.5.4 Inisieer fondsinsamelingsprojekte met die doel om die verbeterings aan die klubhuis moontlik te maak.

16.5.5 Lewer insette aan die Sekretaris ten opsigte van die voorraderegister.

16.5.6 Is verantwoordelik vir die koördinering en reëlings ten opsigte van enige funksie wat van tyd tot tyd in die klubhuis aangebied word.

16.6 Wedloopkoördineerder

16.6.1 Administreer alle werksaamhede insake byeenkomste en wedlope deur die Klub aangebied.

16.6.2 Toesien dat daar ‘n wedlooporganiseerder vir elke wedloop van die Klub aangewys word.

16.6.3 Bywoon van alle wedlooporganisasie vergaderings om toe te sien dat kontinuïteit en hoë standaarde deurgaans gehandhaaf word.

16.6.4 Toesien dat geskikte Klublede geïdentifiseer en voorgestel word vir opleiding as Beamptes, Skeidsregters en Roetemeters.

16.6.5 Moet hom/haarself vergewis en op hoogte hou van nuwe tendense ten opsigte van die organiseer en aanbied van wedlope.

16.6.6 Tydens vergaderings van die Bestuur verslag doen van die vordering van toekomstige wedlope en na afloop van elke wedloop ‘n wedloopverslag ter tafel lê.

16.7 Nuusbriefredakteur

16.7.1 Elke nuusbrief is onderhewig aan die goedkeuring van die Bestuur of Dagbestuur.

16.7.2 Het ten doel om deur middel van ‘n klubnuusbrief die belange van die McArthur Marathonklub, sy klublede en padwedlope in die breë te bevorder.

16.7.3 Dra kommunikasie vanaf die Bestuur aan klublede oor.

16.7.4 Sal poog om eenkeer per maand, maar minstens eenkeer elke twee maande, ‘n nuusbrief te publiseer.

16.7.5 Is verantwoordelik vir die verspreiding van die nuusbrief aan klublede.

16.7.6 Vergewis hom/haar van die nuutste klubgebeure ten einde sy/haar taak doeltreffend uit te voer.

16.7.7 Stel klublede bekend deur middel van die nuusbrief.

16.7.8 Poog om nuwe tendense in oefenmetodes en apparatuur aan lede oor te dra.

16.7.9 Poog om op hoogte te bly van die prestasies en ervarings van klublede vir publikasie.

16.7.10 Sal in alle opsigte en omstandighede ‘n neutrale profiel as Redakteur handhaaf.

16.7.11 Sal die nuusbrief nie gebruik om enige vorm van politiek te bedryf of om enige persoon of instelling aan te val nie.

16.8 Addisionele Lede

16.8.1 Het sitting en stemreg op alle bestuursvergaderings. Verder sal dit die plig van die addisionele lid wees om take uit te voer soos van tyd tot tyd deur die Bestuur aan hom opgedra.

16.8.2 Kan as sameroeper van enige sub-komitee aangewys word.

16.8.3 Beplan en koördineer die aktiwiteite van die Klub 1000 kompetisie en lewer op elke vergadering verslag van die stand van die kompetisie.

16.8.4 Is verantwoordelik vir die opstel van ‘n tydtoetsrooster en die aanwys van persone om tydtoetsdiens te verrig.

16.8.5 Beplan klubuitstappies in die vorm van gesamentlike oefensessies met die doel om klubgees te bevorder.

17 DIE DAGBESTUUR

17.1 Sal bestaan uit die Voorsitter, die Ondervoorsitter, die Sekretaris en die Tesourier.

17.2 Sal vergader wanneer die Voorsitter, Sekretaris of omstandighede dit nodig ag.

17.3 Op enige Dagbestuursvergadering sal drie lede ‘n kworum vorm.

17.4 Die Voorsitter het ‘n gewone sowel as ‘n beslissende stem.

18 MAGTE EN PLIGTE VAN DIE DAGBESTUUR

18.1 Benewens die magte en pligte wat aan die Dagbestuur kragtens enige afdeling van die konstitusie verleen word, sal ook die volgende verder bevoegdhede by die Dagbestuur berus:

18.2 Om die finansiële sake van die Klub, onderhewig aan die bepalings van die Bestuur, te behartig.

18.3 Om alles te doen wat wenslik is vir die Bestuur van die Klub se sake onderworpe aan hierdie grondwet.

18.4 Om spanne te kies om die Klub in spankompetisies te verteenwoordig.

18.5 Dien as die dissiplinêre komitee van die McArthur Marathonklub.

19 VERBEURING VAN DIE AMP

Indien enige lid van die Bestuur of Dagbestuur vir twee agtereenvolgende vergaderings sonder verlof afwesig sou wees, sal daar aangeneem word dat hy/sy sy/haar amp verbeur het. In geval van ‘n vakature wat deur afwesigheid of deur enige ander rede ontstaan, sal die Bestuur indien nodig die vakature vul, by wyse van ko-optering.

20 LEWENSLANGE ERELEDE

20.1 Hoogstens ses persone in lewe sal die toekenning kan dra.

20.2 Die persone aan wie die toekenning gemaak is, sal volle spreekbeurt en stemreg by A.J.V. van die klub hê.

20.3 Die persone sal gedurende ‘n A.J.V. met ‘n twee derde meerderheid van stemme wat uitgebring kan word, verkies word.

20.4 ‘n Volledige motivering voor ‘n A.J.V. moet in die Sekretaris se besit wees, vir voorlegging aan die Bestuur, wat ‘n aanbeveling aan die A.J.V. sal maak.

20.5 All lewenslange erelede word vrygestel van die betaling van klubgelde, en geniet volle stemreg op algemene vergaderings.

21 LEDEGELDE

21.1 Elke lid sal jaarliks ledegelde soos deur die A.J.V. bepaal, vooruit aan die Klub betaal.

21.2 Ledegeld sal op die eerste Januarie van elke nuwe kalenderjaar betaalbaar wees.

21.3 Lede wie op die dag van die A.J.V. nog geen ledegeld vir die betrokke jaar betaal het nie sal geen stemreg hê nie en kan die voorreg om aan besprekings deel te neem deur die Voorsitter ontsê word.

22 REËLS

22.1 Benewens die bepalings van die Konstitusie sal die Klubreëls wat nodig is vir die goeie verloop van die sake van die Klub, aanneem.

22.2 Die reëls kan alleen aangeneem of gewysig word deur:

22.2.1 ‘n Algemene Jaarvergadering wat vir die doel belê is; of

22.2.2 ‘n Spesiale Algemene Vergadering; of

22.2.3 Indien daartoe gemagtig, die Bestuur of Dagbestuur.

22.3 Enige wysiging van die reëls en reglemente sal ingesluit word in die Notule van die spesifieke vergadering waarop die veranderings aangebring is. Indien die Notule behoorlik gesirkuleer is, soos in die Konstitusie bepaal, sal dit as genoegsame kennisgewing van sodanige wysigings beskou word.

22.4 Geen reël mag strydig met die Konstitusie van die Klub wees nie.

22.5 Geen reël mag strydig met die reëls en reglemente van A.S.A en Sentraal Noordwes Padhardloop wees nie.

22.6 In die geval van dubbelsinnighede, sal die Algemene Jaarvergadering die enigste instansie wees wat uitsluitsel kan gee.

23 KLUB 1000 / 500

23.1 Registrasie

23.1.1 Minimum van 50% van registrasie geld voor einde Januarie, balans voor einde Februarie.

23.1.2 Geen uitstel.

23.1.3 Buite lede:

    • Volledige inskrywingsgeld met registrasie.

23.2 Inskrywings

Minimum van ses deelnemers vir goud.

23.3 Amptelike kilometers

23.3.1 Alle amptelike wedlope volgens die bepalingslys wat:

    • Binne die afsnytyd voltooi is.

23.3.2 Tydtoetse, (alleenlik McArthur Tydtoetse)

    • Minimum 20 tydtoetse maksimum 45 (Klub 1000).
    • Minimum 20 tydtoetse geen maksimum (Klub 500).
    • Minimum van twee klublede moet teenwoordig wees by tydtoets.
    • Alleenlik op Dinsdae oggende en middae.

23.3.3 Klub "Runs" soos deur die Bestuur goedgekeur is

    • Maksimum van twee per jaar.
    • ‘n Maand se kennis moet gegee word.
    • Dit moet goed beplan, gemeet en ge-organiseerd wees.

23.3.4 "Pre" of "Post" wedlope

    • Alleenlik vir McArthur Wedlope.

23.3.5 Amptelike twee en driekamp byeenkomste met geregistreerde tye. (Bestuur mag vir bewyse vra.)

23.4 Vinnigste kilometers afgelê.

Total tyd gedeel deur totale kilometers, (ongeag afstand).

23.5 Meeste Kilometers.

Alle amptelike kilometers soos beskryf in punt 5 (Amptelike Kilometers).

23.6 Verklaring van Kilometers Afgeneem.

23.6.1 Een maand grasie,

23.6.2 Na een maand sal die kilometers nie aanvaar word.

23.7 Prys / Toekennings

23.7.1 Almal wat 1000 kilometers voltooi ontvang ‘n silwer medalje en ‘n Verdienste Sertifikaat.

23.7.2 Kategorie wenners ontvang ‘n goue medalje soos omskryf in punt 23.4 en 23.5 en ‘n silwer geraamde sertifikaat.

23.7.3 Medaljes/sertifikate Klub 500 (Bestuur kan besluit).

Mag alleenlik van Klub 1000 na Klub 500 toe skuif.

23.8 Permanente Nommers

23.8.1 Lede wat Klub 1000 drie keer voltooi, sal ‘n Klub 1000 geborduurde lapwapen en ‘n silwer geraamde sertifikaat vir die eerste Permanente Nommer ontvang.

23.8.2 Lede wat Klub 1000 ses keer voltooi, sal ‘n Klub 1000/5000km gebordeerde lapwapen en ‘n silwer geraamde sertifikaat vir die tweede Permanente Nommer ontvang.

23.8.3 Lede wat 10 000km voltooi, sal ‘n derde Permanente Nommer ontvang. Dit sal ‘n geborduurde lapwapen met Klub 1000/10 000km en ‘n silwer geraamde sertifikaat wees.

24 WYSIGING VAN DIE KONSTITUSIE

24.1 Die konstitusie kan alleen op ‘n A.J.V., of ‘n spesiale Algemene Vergadering, wat spesiaal vir die doel belê is, gewysig word.

24.2 Die kennisgewing van enige voorgestelde wysiging aan die konstitusie moet ooreenkomstig die voorgeskrewe prosedure, soos saamgevat in artikel 11 van hierdie konstitusie wees, en moet by die sakelys ingevoeg word.

24.3 Die kennisgewing moet uitdruklik aandui watter artikel van die konstitusie gewysig moet word en ook uitdruklik aandui wat weggelaat of toegevoeg moet word, met skriftelike motivering.

24.4 Die konstitusie kan alleen deur ‘n twee derde meerderheid van lede wat teenwoordig is en wat aan die stemming deelneem, gewysig word.

24.5 Enige wysiging van die konstitusie tree onmiddellik in werking.

25 ONTBINDING

25.1 Die klub sal slegs ontbind indien:

25.1.1 ‘n Korrek gereglementeerde voorstel in die verband op ‘n A.J.V. of S.A.V. deur ‘n twee derde (2/3) meerderheid van die lede van die Klub, bekragtig word, of,

25.1.2 die dienende Bestuur met ‘n meerderheid op ‘n korrek gereglementeerde bestuursvergadering besluit om die Klub te ontbind indien daar teen einde Maart (twee maande na her-affiliasie) van enige jaar, nog nie die vereiste 15 atlete by die Klub geregistreer is nie. bestuursvergadering besluit om die Klub te ontbind indien daar teen einde Maart (2 maande na her-affiliasie) van enige jaar, nog nie die vereiste 15 atlete by die Klub geregistreer is nie.

25.2 Enige fondse wat die Klub by ontbinding het, sal aan die Sentraal Noordwes Padhardloop oorbetaal word vir administrasie en aanwending daarvan na eie goeddunke.

25.3 Die Sentraal Noordwes Padhardloop word onthef van alle verpligtinge wat op enige stadium deur die McArthur Marathonklub aangegaan is.

26 AANVAARDING VAN KONSTITUSIE

Die Konstitusie hierin saamgevat is op die Algemene Jaarvergadering van die McArthur Marathonklub, gehou te Potchefstroom, op November 1996, bespreek en goedgekeur.

 
Stuur e-pos aan webmeester@mcarthur.org.za indien u enige navrae of kommentaar oor hierdie webwerf het.
Kopiereg © 2000 McArthur
Laas opgedateer: 12 Februarie 2001