Home Up REGISTREER NOU! Fotoblad Webskakels McArthur - ons gee die pas aan ....  Home Up                                                                                       

CHRIS HATTINGH

Geen ander klublid het al meer bereik of harder gewerk om die klub se belange te bevorder as Chris Hattingh nie.   Chris is al van dag een af betrokke by die klub as een van die stigterslede 23 jaar gelede (hy is al stigterslid wat nog ononderbroke lid van McArthur is).  Hy was ook die stigtersvoorsitter in 1978, 'n pos wat hy nege jaar lank beklee het.  Deur sy inisiatief is die Wes-Transvaalse Padhardlopersvereniging (WTPV) gestig en is affiliasie met SARRA (SA Road Running Association) bewerkstellig.  Chris het vir nege jaar as ook as voorsitter van WTPV gedien en was gedurende dieselfde tydperk Uitvoerende Bestuurslid van SARRA en ontvang in 1991 SARRA Erekleure.  Chris was ook erken as een van die mees ervare Nasionale Skeidsregters en Roetemeters en het hy by verskeie Nasionale Kampioenskappe in hierdie hoedanighede opgetree.

'n Bloedjonk Chris in aksie op die landloopbaan.. en tydens die Twee Oseane 56km. McArthur se stigtingsjaar

Chris trap ook diep spore in die breër atletiekfamilie en word gedurende die Suid-Afrikaanse Amateur Atletiekunie (SAAAU) se 99e en laaste bestaansjaar (1992) verkies as Vise-President.  Hy was oor 'n tydperk van meer as drie jaar intens betrokke by die eenheidsonderhandelinge tussen die SAAU, SAAB en SAACON, 'n moeisame en uitputtende proses wat buitengewone geduld en onderhandelingsvaardighede verg.  

Met die stigting van Atletiek Suid-Afrika (ASA) in 1994 word Chris slegs een van twee administrateurs uit die SAAAU-geledere om as 'n Uitvoerende Bestuurslid van ASA verkies te word.  Hy word ook verkies as sameroeper van die Mediese Komitee.  (Chris is 'n gekwalifiseerde apteker en die eienaar van Miederpark Apteek). 

 

Koerantberigte in Dervock en Potchefstroom oor Chris en Nick Vreken se besoek aan Dervock in Julie 1984

Chris was ook een van die baanbrekers wat die beheer en toets van verbode middels en opkikkers in sport betref en dit was geen verrassing toe hy in 1997 as een van die eerste Direkteure van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport deur die Minister van Sport aangestel is.  

As atleet het hy ook uitmuntend presteer.  Sy 2:38:55 in die 1986 Sasol Marathon plaas hom sesde op die lys van beste prestasies deur 'n McArthur-atleet in 'n marathon. Hy wen ook die Dervockskild as eerste McArthurlid in die McArthur Marathon (2:45:09). In die Comrades Marathon het hy ook buitengewoon goed gevaar, soos sy 218e posisie in 1990 (6:53:54) en nog ses ander silwer medaljes illustreer.  Hy word in 1988 die eerste McArthurlid om 'n  permanente nommer in die Comrades Marathon te verwerf. Hy wen ook in 1990 en 1991 die Kenne de Kock wisseltrofee as eerste McArthur-veteraan in die Comrades.  Nommer 98 kon heelwat meer medaljes huistoe gebring het, maar werksverpligtinge en knaende beserings het dit nog nie moontlik gemaak nie.

Chris op pad na 'n 7:27:19 Comrades in 1981.  Let op die ou klubkleure wat toe nog gebruik was. Die skeidsregter en sy "ampsmotor" in aksie! . Chris by die halfpadmerk tydens die 1990 Comrades - sy stadigste eerste helfte en vinnigste Comrades op die ou end!
Chris en sy vriend Chet Sainsbury, grootbaas van die Twee Oseane, tydens die 1989 Comrades. Willie Victor, Chris en Nick Rossouw reg vir 'n koue wegspring (dit was seker 'n af-wedloop)!

Chris word in 1988 verkies as Stadsraadslid in Potchefstroom.  Sy klub se belange bly nie agterweë nie en danksy sy inisiatief besluit die Stadsraad om in 1989  'n onbenutte huis op die perseel van die destydse McArthur Ovaal aan die klub en WTPV toe te ken om as 'n gesamentlike klubhuis omskep te word.

Die Stadsraad van Potchefstroom vereer hom in as Potchefstroom se eerste Sportadministrateur van die jaar in 1992.

Chris is in 1999 verkies tot lid van die Noord-Wes Provinsiale Wetgewer en is tans leier van die Demokratiese Alliansie in die Noordwes Provinsie. Hy dien op verskeie Noord-Wes Staande Komitees en ook op die Staande Komitee vir Maatskaplike Dienste, Kunste, Kultuur en Sport. As lid van die Noord-Wes Wetgewer bring hy heelwat van sy tyd in Mafikeng deur. Hy is egter vol hoop dat hy wel in 2001 meer tyd by die klub (en ook op die pad) sal kan deurbring.

Chris hard aan die oefen tydens 'n vakansie by die Suidkus. Arnold van der Merwe, Chris, Monty Monteith, Labous Labuschagne, Pottie Potgieter, Blikkies Blignaut en Nick Vreken met die 1984 Fakkelloop.
 
Stuur e-pos aan webmeester@mcarthur.org.za indien u enige navrae of kommentaar oor hierdie webwerf het.
Kopiereg © 2000 McArthur
Laas opgedateer: 12 Februarie 2001